|

PLAASMOORDE NEEM WEEREENS TOE

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy jongste statistieke rakende plaasaanvalle vandag bekendgestel. Sedert April verlede jaar was daar 395 plaasaanvalle landwyd.

Hoewel daar ’n afname was in die aantal plaasaanvalle in die 2020/2021 finansiële jaar in vergelyking met die vorige finansiële jaar, was daar ’n toename in plaasmoorde. Daar is die afgelope jaar 59 mense op plase in Suid-Afrika vermoor, in vergelyking met 41 in die vorige jaar.

Die aanvalle bly ook steeds ’n groot bron van kommer weens die uitermatige geweld wat gereeld met dié misdade gepaard gaan. In 22% van die aanvalle is slagoffers wreed gemartel deur hulle met strykysters te brand, dood te slaan of dood te skop, of herhaaldelik met ’n skerp voorwerp te steek.

64% van slagoffers was bo die ouderdom van 50.

Items wat die meeste gebuit word tydens plaasaanvalle is vuurwapens, voertuie en elektroniese toestelle, hoewel daar minstens ses plaasmoorde was waar niks gesteel is nie.

“Die feit dat plaasmoorde en die wreedheid van die aanvalle toegeneem het ten spyte van die feit dat die aantal aanvalle afgeneem het, is uiters kommerwekkend. Dit wys ook vir ons dat die lippediens wat die Minister van Polisie en die President vir ’n kort rukkie verlede jaar aan die onderwerp bewys het, eintlik maar op niks uitgeloop het nie en dat dit vir gemeenskappe al hoe belangriker word om na hul eie veiligheid om te sien,” sê Ernst Roets, AfriForum se hoof van Beleid en Aksie.

AfriForum moedig landelike bewoners aan om hul veiligheid in hul eie hande te neem, binne die raamwerk van die wet, en om veiligheidsnetwerke te stig of om by een van AfriForum se 160 buurt- en plaaswagte landwyd aan te sluit.

Die organisasie het ook onlangs sy Beveilig ’n Plaas-veldtog bekendgestel. Besoek www.beveilignplaas.co.za vir meer inligting oor die veldtog.

Klik hier om die verslag te lees.

Soortgelyke plasings