Logo

Uitgelewer: Plaasmoorde in Suid-Afrika – Onthul

Nuus
10 Augustus 2023
Daar gaan nie ’n maand verby sonder ’n plaasaanval of -moord nie.
Onthul Plaasmoorde artikel image

Uitgelewer: Plaasmoorde in Suid-Afrika, die vyfde in die reeks Onthul-nuusdokumentêre, wat op Sondag 13 Augustus om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word, neem hierdie omstrede Suid-Afrikaanse misdaadprobleem onder die loep.

Verstaan ons plaasmoorde regtig? Verstaan ons die impak van ’n plaasmoord op ’n gesin, familie, gemeenskap en op die ekonomie van ’n gemeenskap (dikwels klein dorpe)? Wat is die gevolge vir ’n land waar daar al duisende plaasmense vermoor is? Wat is die redes agter plaasmoorde? Met die polisie wat te onbeholpe is om misdaad hok te slaan, is landelike gemeenskappe op hulself aangewese vir veiligheid en die voorkoming en bekamping van misdaad, dikwels grumisdade.

Dit is van die vrae en kwessies wat onder die vergrootglas geplaas word.

’n Hand vol persone wat hul ervaring in dié ondersoekende nuusdokumentêr deel, is Alison Oates, wat ’n gewelddadige aanval oorleef het, en Michael Mmopane, ’n werknemer van Anneke Claassen wat saam met haar vriend Hennie Claassen vroeër vanjaar in Ohrigstad vermoor is. Michael werk sedert 1995 vir Anneke en sê hy kan nie glo so iets het gebeur nie.

Ander deelnemers aan die program is Francois Laux, ’n oud-polisieman en ondersoekbeampte, en Rudolph Zinn, ’n plaasmoordnavorser.

Ian Cameron van Action Society, Bennie van Zyl van TLU SA en Charles Smith, ’n joernalis en boer, gee ook hulle mening.

Lafras Tremper van Hoedspruit-plaaswag vertel hoe hulle tegnologie, honde en helikopters suksesvol teen plaasmisdaad in die distrik inspan.

  • Skakel op 13 Augustus om 20:00 in op kykNET (DStv-kanaal 144) vir die jongste nuusdokumentêr in die Onthul-reeks – Uitgelewer: Plaasmoorde in Suid-Afrika.