Ek het probeer om op te hou nuus kyk. Ek vermy die koerante. Ook, as ek deesdae iets oor plaasmoorde sien op Instagram of Facebook, swipe ek net aan, want in dié stadium kan ek dit nie meer hanteer om so moedeloos en kwaad te voel as ek hoor van die hoeveelste moord op ’n onskuldige boer nie. Dieselfde boer wat verseker dat daar vars kos op jou tafel is.
Ek het die afgelope tyd met alles wat in ons land aangaan my opinies maar vir myself gehou. Ek is immers net ’n lawwe student, wat weet ek nou van die wêreld en sy kwale? Maar toe die koerant op die eetkamertafel nou die oggend ooplê by die hoeveelste gesin wat vermoor is, het dit vir my gevoel ek kon bars.
Wanneer gaan dit beter raak, het ek gedink. Hoekom is ons bang om ons monde oop te maak en op te staan vir geregtigheid? Hoekom voel ek selfs nou versigtig om dalk die verkeerde ding te tik, want netnou sê ek iets verkeerd of iemand stem nie saam met my opinie nie. Hoekom word iets soos moord stilgehou en onder die mat ingevee? Hoekom moet daar gedebatteer word oor of dit so belangrik is soos ander kwessies in ons land?
Hoe regverdig jy die verkragting van ’n ma voor haar kinders, ’n driejarige voor haar ouers? Hoe regverdig jy die verminking van ’n 80-jarige vrou se liggaam? Hoe regverdig jy die moord op ’n onskuldige gesin wat niemand gehinder het nie? Dis walglik. Dis siek. En daar word niks daaraan gedoen nie.
Volgens my behoort dit ’n baie siek individu te wees om ’n ander person so te kan vermink, aan te rand of vermoor gegrond op iets so oppervlakkig soos die kleur van sy vel. Nie waar nie? En ja, dit tel ook vir polisiegeweld teenoor swart mense en die geweld teenoor vroue.
Ek is nie trots om in ’n land te woon waar die kosproduseerders bang moet gaan slaap elke aand nie. Ek is nie trots om te weet dat ons weer binnekort op Facebook ’n foto van ’n verminkte persoon gaan sien nie. Ek is nie trots oor hoe die regering dit onder die mat invee nie.
Ek onthou hoe my ouma en oupa altyd met ’n ekstra hek voor hul slaapkamer geslaap het. So baie dink ek terug aan hoe maklik dit hulle kon wees.
Ek dink baie van ons is moeg. Moeg daarvan om te sien hoe onreg en wreedheid elke dag ’n draai maak, of dit nou polisiegeweld, geslagsgeweld of plaasmoorde is. Ons sug, sit ’n ondersteunende foto’tjie op sosiale media en sus ons gewete met ’n gebedjie. Wat meer kan ons dan nou doen?
Dit is tyd dat ons ons veiligheid in ons eie hande moet neem, die reg is al lankal nie meer daar vir ons beskerming nie. Sleg voel is nie meer genoeg nie, daar moet ’n manier wees hoe ons kan opstaan, ondersteuning bied en daar wees vir mekaar. Ek wil almal aanraai om te bid vir ons land, om te bid vir dié wat in beheer is, bid vir die mense wat voel dat moord die enigste opsie is en bid dat ons ’n oplossing sal kry.
- Rozanne Bester studeer BA tale en kultuur aan die Universiteit Stellenbosch.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook.
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?
Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.
IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?
Jy kan R10 000 wen!